Tydens Lochieland se Wetenskapweek is leerders op ‘n prettige manier blootgestel aan talle Suid-Afrikaanse wetenskaplikes, uitvinders en uitvindings.
Leerders van graad 1 - 7 het die geleentheid gekry om enige Suid-Afrikaanse navorser, uitvinder of wetenskaplike uit te beeld en moes hierdie persoon aan hul klasmaats voorstel. Van Chris Barnard en Annique Theron tot Peter Ramsay, die uitvinder van ‘n outomatiese mikrogolf-springmielie-”vending”-masjien, het in die gange rondgeloop. Die wenner in elke graad is met ‘n boekprys beloon.
Nog ‘n hoogtepunt van die week was die Breinboelies waar die skoolsaal in ‘n Wetenskapsentrum omskep is sodat leerders o.a. kon leer hoe werk lees- en sonbrille, hoe word kristalle gevorm en hoe werk weerlig en donderweer. Hulle kon ook ballonne teen mure laat vassit en letterlik hul hare laat rys met sommige eksperimente.
Hierdie week word jaarliks gehou om die leerders se belangstelling in Wetenskap te prikkel.