Vakke aangebied:
Afrikaans Huistaal
Engels Eerste Addisionele Taal
Wiskunde
Natuurwetenskappe en Tegnologie
Sosiale Wetenskappe (Geskiedenis en Geografie)
Lewensvaardighede (LO Prakties, Persoonlike en Sosiale Welsyn, Skeppende Kunste)
STEM
WAT MAAK ONS AKADEMIE SPESIAAL?
In Lochieland is ons onderrigmedium Afrikaans. Ons vakspesialiste gee vakonderrig vanaf graad 4. Omdat hulle passievol is oor hulle onderskeie vakke, dra hulle die inhoud en hul kennis met entoesiasme aan die kinders oor.
Ons probeer elke jaar vernuwend dink oor die werk wat ons moet onderrig en is nie handboekgebonde nie. Ons het interaktiewe Clever Touch-skerms in elke klas in graad 4 en 5 en gebruik dit met vrug om die lesse interessant en relevant aan te bied.
Ons probeer ons kinders voorberei op ‘n wêreld waar daar van hulle verwag gaan word om probleme te kan oplos, kreatief te kan dink en idees te kan genereer. Ons onderrig strek daarom wyer as die kurrikulum. Daarom volg ons 'n vernuwende onderrigmetode waar ons probleemoplossings- en denkvaardighede ontwikkel deur die leermateriaal te integreer en volgens 'n sentrale tema aan te bied.
Ons rekenaarsentrum en biblioteek is beskikbaar na skool vir kinders wat wil navorsing doen vir take. ‘n Onderwyseres is tot hulle beskikking om hulle hiermee te help. Die skool beskik ook oor tablette wat baie suksesvol in die klas gebruik word vir verryking, navorsing en verdere leeswerk.
WAT DOEN ONS VIR VERRYKING?
Behalwe vir die daaglikse verryking in die klasse, bied ons ook die volgende:
Breinboelies waar die Top 20 presteerders in elke graad kwartaalliks op ‘n akademiese uitstappie gaan.
Ons wys kwartaalliks die Top 15-leerders in elke graad aan.
Ons moedig ons leerders aan om deel te neem aan die Conquesta Olimpiade in Afrikaans, Engels, Wiskunde en Natuurwetenskap. Hierin presteer ons jaarliks uitstekend.
Ons neem deel aan ‘n verskeidenheid Olimpiades.
Ons het ‘n Robotika-en-koderingsklub waar klublede opleiding in robotika ontvang en aan kompetisies deelneem.
‘n Gratis Vakansieskool vir graad 6-leerders tydens die Septembervakansie vir ondersteuning in Afrikaans en Wiskunde.
WAT DOEN ONS OM ONS LEERDERS AKADEMIES TE ONDERSTEUN?
Ons het ‘n groot span opgeleide terapeute tot ons beskikking. Kinders word gedurende klastyd onttrek vir leerondersteuning in kleiner groepies. Namiddae bied ons gratis ekstra klasse aan in Afrikaans, Engels en Wiskunde.
Dan werk ons ook nou saam met die ARA Terapiesentrum oorkant die skool waar ons kinders teen ‘n vasgestelde tarief akademies asook emosioneel ondersteun word. Die skool het ook 2 maatskaplike werksters wat leerders ondersteun.